Naam
Wagwoord

Kontak Besonderhede

Kantoor:  0860 104 297 
Faks: 086 531 5988
e-pos: inligting@oranje.org.za

 
 

Afrikaner sakemanne word genooi om aan te sluit by Oranje Sakekamers in hulle area of alternatief, indien daar nie 'n Oranje Sakekamer in hulle area is nie, een te stig.

Kontak ons gerus vir verdere besonderhede by: stigting@oranje.org.za

ORANJE SAKE INSTITUUT REGLEMENT

  1. NAAM

Oranje Sake Instituut (hierna genoem Instituut). Die verkorte naam is OSI (uitgespreek as "O" "S" "I")

  2. DOEL

     Die Oranje Sake Instituut stel hom ten doel om:

2.1 Die Oranje Sakekamers saam te snoer in ’n belangegroep ten einde die doelstellings van Oranje Sakekamers te bevorder en te koördineer

2.2 Afrikaner entrepreneurskap deur middel van spesiale projekte te bevorder en uit te bou.

2.3 Afrikaners ekonomies te versterk deur die vestiging van nuwe ekonomiese instellings

2.4 Afrikaners te rig met opleidingsprogramme ten einde volkseie ondernemings op professionele wyse te bedryf.

2.5 Christen Afrikaner sakemanne nader aan mekaar te bring, goeie onderlinge verhoudings op te bou en volkseie sakebelange te bevorder onder mede-volksgenote.

2.6 Die Afrikanervolk se kapitale kragte te verenig tot voordeel van sy ondersteuningsbasis.

2.7 Die huidige finansiële nood in die Afrikanergeledere op ‘n verbeeldingryke wyse teë te werk deur dit te benader as ‘n geleentheid waar volkseie arbeidsgeleenthede geskep kan word waar ons as volk weer grootliks in ons eie behoeftes kan voorsien.

2.8 Sake-etiek te help vestig teen die huidige aanslag van korrupsie en swak standaarde.

2.9 Sakegeleenthede te vestig en te bevorder wat kan bydra om volksgenote wat die land verlaat het weer terug te bring.

2.10 Om Sakegildes te stig.

  3. VERANTWOORDELIKHEDE

3.1 Die Instituut hou rekord van alle geaffilieerde Oranje Sakekamers met die doel om effektiewe kommunikasie te verseker

3.2 Die Instituut hou jaarliks ’n kongres waartydens die direkteure verkies word deur afgevaardigdes van Oranje Sakekamers

3.3 Die Instituut reël so dikwels moontlik konferensies, seminare en ander ter saaklike byeenkomste in belang van sy lede.

3.4 Die Instituut beding by bestaande strukture namens sy lede vêrdere voordele of vestig, waar moontlik self nuwe strukture in samewerking met Oranje Sakekamers.

3.5 Die Instituut doen op deurlopende basis navorsing oor nuwe ontwikkeling in die sakewêreld en vervaardigingsbedryf.

3.6 Die Instituut reik mediaverklarings uit namens sy lede oor verskillende onderwerpe en bevorder sy ledebelange deur gepaste advertensie metodes.

  4. SAMESTELLING

Die direksie van die Instituut word tydens jaarvergaderings verkies en bestaan uit die volgende ampte:
Voorsitter

Onder-Voorsitter

Sekretaris

Penningmeester

Addisionele lede volgens streke

Administratiewe Hoof

  5. LIDMAATSKAP

Die Instituut is verantwoordelik om op gekoördineerde grondslag die belange van sy geaffilieerde lede te hanteer. Hierteenoor het die Instituut die verantwoordelikheid om toe te sien dat lede binne die raamwerk van die Reglemente van hul eie Sakekamer asook dié van Oranje Sake Stigting handel.

5.1 Slegs Oranje Sakekamers wat hulle vereenselwig met die doelstellings en strewe van die Instituut, mag affilieer as lede van die Oranje Sake Instituut.

5.2 Slegs Oranje Sakekamers waarvan die jaarlikse affiliasie fooi inbetaal is, is stemgeregtig tydens jaarvergaderings

5.3 Uittredende sakemanne wie verkies is tot die direksie van die Instituut, se termyn verval tydens die daaropvolgende jaarvergadering.

5.4 Oranje Sakekamers waarvan die ledegeld vir ’n bepaalde boekjaar uitstaande is, verbeur stemreg   tydens die jaarvergadering met dien verstande dat indien die jaargeld vir twee jaar of meer uitstaande is, sodanige sakekamer sy lidmaatskap kan verbeur.

  6. REGSGELDIGHEID

6.1 Die Oranje Sake Instituut is ’n regspersoon ongeag die wisseling van sy verkose direksie en bestuur.

6.2 Lede van die Instituut se aanspreeklikheid ten opsigte van enige laste en verpligtinge wat mag ontstaan is beperk tot R1 (Een Rand) per lid.

6.3 Die Instituut hou behoorlik rekord van alle uitgawes en inkomste volgens erkende sakebeginsels en doen jaarliks verslag daarvan aan sy lede tydens jaarvergaderings.

6.4 Die Instituut is by magte om personeel aan te stel, eiendom te bekom, bankrekenings te open, beleggings te maak tot voordeel en in belang van sy geaffilieerde lede.

6.5 Die Instituut sal deur middel van sy verkose direksie of bestuur, enige geding wat mag ontstaan self ondersoek en tot bevrediging van die meerderheid lede afhandel deur normale regsprosesse te volg.

  7. WYSIGING VAN REGLEMENT


Hierdie Reglement kan gewysig word tydens ’n jaarvergadering met dien verstande dat sodanige wysiging geldig is indien 55% of meer van die afgevaardigdes ten gunste van die wysiging stem. Sodanige stemming vind per geslote stembrief plaas.

Wysigings aan die Reglement word vooraf gegaan deur minstens 90 dae vooraf skriftelik kennis te gee aan al die geaffilieerde sakekamers, tesame met ’n skriftelike motivering.

  8. VERGADERINGS

8.1 Algemene Jaarvergadering

8.1.1 Die Algemene Jaarvergadering vind plaas op die datum en plek soos deur die Direksie van Oranje Sake Instituut bepaal word met dien verstande dat geaffilieerde Sakekamers dertig (30) dae vooraf skriftelik kennis gegee word van sodanige vergadering. Die kennisgewing sal ook vergesel word van die Sakelys en ander toepaslike dokumentasie. Die vergadering vind plaas gedurende die eerste helfte van die kalenderjaar.

8.1.2 Slegs geaffilieerde lede (Sakekamers) wat aan al die gestelde vereistes voldoen, het sitting en stemreg tydens die vergadering.

8.1.3 Stemming vind plaas by wyse van geslote stembrief en elke afgevaardigde beskik oor een stem per stemming.

8.1.4 Die skriftelike nominasies vir die verkiesing van Direksielede word as eerste ronde van die stemming beskou wat meebring dat alle afgevaardigdes nominasies inhandig.

8.1.5 Die verkiesing van Direkteure vind jaarliks plaas en bestaan uit die volgende ampte:

- Voorsitter

- Ondervoorsitter

- Sekretaris

- Penningmeester

- Administratiewe Hoof

Bovermelde lede vorm die Dagbestuur van die Instituutg en funksioneer in opdrag van die Direksie

8.1.6 Benewens die vermelde Dagbestuur word die direksie aangevul met een lid per streek. Die Jaarvergadering bepaal jaarliks hoeveel bykomende lede volgens die voorafbepaalde streekindeling verkies kan word. Namate die streke vermeerder kan bykomende lede gekoöpteer word as lede van die direksie. In sodanige geval verstryk die gekoöpteerde lid se termyn by die eersvolgende Algemene Jaarvergadering.

8.2 Die Dagbestuur

8.2.1 Die Dagbestuur is benewens die opdragte vanaf die Direksie, verantwoordelik vir die dag tot dag bestuursbesluite in samewerking met permanente personeel.

8.2.2 Die Dagbestuur is verantwoordelik vir personeel aanstellings, afhandeling van eiendom en toerusting aankope en ander take ten einde effektiewe funksionering te verseker.

  9 ONTBINDING

Die Oranje Sake Instituut kan slegs ontbind word indien 70% van die teenwoordige stemgeregtigde afgevaardigdes deur middel van geslote stembrief daartoe instem.

In sodanige geval word die bates van die Instituut, pro rata volgens lidmaatskap van elke geaffilieerde sakekamer, aan hulle oorgedra nadat alle bates en laste verreken is tydens ’n spesiale jaarvergadering wat vir hierdie doel belê is.

Die teenwoordige lede wys self ’n werkkomitee aan om hieraan gevolg te gee.